“Stilte Ná Askari” Dis Desember in ’n vreemde land, die Bosveld hou sy asem vas. Burgermag-manne, gewone ouens, met stof op hul stewels en geen vrees onder die jas. Veggroep Delta trek stadig noord, ses-honderd man, ses-honderd harte, een pad vorentoe. Cuvelai lê soos ’n skadu voor ons, ’n plek wat sê: jy gaan nie ongeskonde deur nie. Ons was nie hier vir glorie nie, net om ons werk te doen. En niemand het geweet daai dae hoe swaar ’n naam kan weeg nie. Dis nie die skote wat ek onthou nie, dis die stilte ná die tyd. Die kyk in ’n makker se oë wanneer iets binne-in hom breek en bly. Operasie Askari, jy het ons verander, meer as staal of vuur ooit kon. Ons het jonk ingekom… maar anders weer huis toe gegaan. Geloftedag, sestien Desember, die fluit voor die donder se stem. Nie mortiere nie — swaar artillerie, die grond wat ruk onder elke asem. ‘n Kapelaan het sy stem gelig… Nie sag nie… Nie binnens monds nie… het hy nie geskreeu uit vrees nie… Hy het geskreeu uit geloof… Met volle stem… kliphard, tussen die ontploffings deur: Psalm drie-en-twintig vers vier, “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee… sal ek geen onheil vrees nie…” uit geloof hardop, sonder skaam. Toe duik hy weg in ’n erdvarkgat, net ’n man, ’n gebed, en sand. Dis nie die vrees wat ek onthou nie, dis hoe ons bly staan het saam. Staaldeure toe, Ratels gereed, en elkeen bid in sy eie naam. Operasie Askari, jy het ons getoets, tot op die rand van mens wees… Ons het nie helde probeer wees nie… ons het net oorleef, man vir man. Een-en-dertig Desember breek die dag, die bos te stil, die lug te swaar. Bome afgesaag, ’n skootvak lê oop, en almal weet: dis nou of nooit. Die hel breek los net buite Cuvelai, veertien-koma-vyf donder teen staal, teen been en grond. In daardie oomblik val ’n makker, en niks sal ooit weer dieselfde klink. ’n vriend, ’n seun, ’n plan vir môre. Hy kon by die huis gebly het… maar hy het gekies om hier te wees. Dis nie die dood wat my volg nie, dis die leë plek langs my. ’n Helmit wat stil op die grond lê, ’n stem wat nooit weer antwoord nie. Operasie Askari, jy vat jou deel, en jy gee niks weer terug. Behalwe ’n las wat ’n soldaat dra… stil, sonder klank, en swaar. Maar toe die vuur nog brand en rook hang swaar, het twee manne sonder huiwering gehardloop daarheen. sonder vrae, net plig en liefde vir ’n vriend. Hulle het hom vasgehou tot die einde toe, toe oorlog besluit dis klaar. Heldedade stop nie altyd die dood nie… maar hulle wys ons wie ons was. Dis nie die oorlog wat ek onthou nie, dis die manne langs my sy. Die stilte ná die geveg, ’n hand op ’n skouer, sonder klank. Operasie Askari, vier-en-veertig jaar later, dra ons jou in ons lyf. Nie as geskiedenis nie… maar as deel van wie ons bly. Vir die wat geval het… vir die wat bly dra… vir die Burgermag…