
Die meeste van die tyd voel ek soos ‘n pion op ‘n boring bordspel wat gespeel word net om die tyd te verdryf. Ander tye voel ek asof ek speel in ‘n geflopte movie wat so bad was dat die critics die polisie oortuig het om die akteurs en die regisseur in die tronk te gooi. Die meeste van die tyd voel ek soos die koeldrank heel agter in ‘n vrieskas wat heel agter in die kafee staan: nooit gesien nie, nooit gekoop nie, nooit gedrink nie. Soms voel ek soos die bubblegum op die sypaadjie wat vasplak onder die skoen van ‘n snotneus seuntjie wat in hondepoeffies en daarna in nat sement wat hard geword het getrap het. Die meeste van die tyd voel ek soos ‘n commin muis wat ‘n de Kat wil koop, maar dit nie kan bekostig nie; of selfs al kon hy dit bekostig, dit nie verstaan nie. Al wat hy verstaan is die opskrif op die voorblad: “Die Kat kom weer!”, en dit maak hom bang. Baie keer voel ek soos die jakkals wat gejaag word deur veertig bloedhonde op ‘n oop veld en daar is geen gate om in weg te kruip nie. Ek voel baie keer soos die voosgeslaande gesig van ‘n bokser wat geboks word deur die ystervuis van ‘n bokser wat so hard slaan dat dit voel soos ‘n tien-pond hammer wat ‘n marshmallow verbrysel. En dit is die vyftiende rondte. En… die klok het gebreek. Daar is tye wat ek voel soos die ou sonder ‘n foon wat stuck is in ‘n lift onder die grond in ‘n myn wat toegemaak het. Maar soms… ... soms voel ek soos ‘n boemelaar wat iemand se weggegooide lottery ticket in ‘n vullisdrom gekry het en toe deur die venster op die nuus op die TV by die BP garage sien hoe hulle afkondig dat sy kaartjie se nommer dieselfde nommer is as die nommer wat die 30 miljoen jackpot gewen het.

